Friday 24 August 2012

Winde van Positiewe Verandering in Sonop!

Die Latynse woorde Quo Vadis (waar gaan jy heen?) word heel dikwels in 'n krisisuur deur volksleiers of ander persone in prominente leiersrolle uitgespreek as die pad vorentoe vir hulle en hul volgelinge onseker of vol struikelblokke blyk te wees. Met die vraag word elkeen - Ieier en volgeling - opgeroep om diep na te dink oor die pad vorentoe. Wat is die einddoel waarna gemik word en watter optrede word in die lig daarvan verwag ?
Sonop Christelike Tehuis - hierdie alma mater van ons wat by elke oud-Sonopper soveel mooi herinneringe oproep - is in sy 96 jaar van bestaan hierdie vraag nie gespaar nie.

Vir bykans 70 jaar was die koers wat Sonop ingeslaan het baie duidelik en het huislede, huiskomiteelede en Sonopraadslede presies geweet - en ook eenstemmigheid daaroor gehad - waarheen die tehuis oppad is. Maar die winde van verandering in ons land sedert die middel tagtigs van die vorige eeu het Sonop ook getref. Sonop se eens edele, duidelike en eenstemmende Quo Vadis het langsamerhand vervaag tot 'n steen des aanstoots en 'n kwelling vir menige oud-Sonopper.

Sonop het op die Tukkiekampus begin bekend staan as die koshuis waar hardnekkige ontgroening, oormatige drankgebruik, onbeheersde sosiale funkies, skandalige vandalisme, voorkeur plasing van sport- en sosiale eerstejaars bo akdemiese top presteerders asook swak akademiese dissipline by huislede hoogtyvier. Aan die begin van 2010 het Sonop 'n laagtepunt bereik toe van bogenoemde praktyke deur die pers die werêld ingestuur is. Vriend en vyand het bespiegel oor Sonop se Quo Vadis?

En toe - juis in hierdie krisisuur - kom oud-Sonoppers na vore wat bereid was om Sonop terug te lei na die Quo Vadis van ouds waarvan Garibaldi se vasberade gesigsuitdrukking getuig.

Vind in hierdie spesiale nuusbrief eerstens 'n skrywe van Danie Slabbert, ons Sonopraadsvoorsitter sedert 2010. By die lees hiervan sal jy baie gou agterkom dat sy skrywe nie maar net woorde op papier is nie. Dit is woorde uit die hart van die man wat huidig aan stuur van Sonop se sake staan en wat sy vroeëre diepe bekommernis oor die destydse Quo Vadis van die tehuis met ons deel, maar ook woorde waarmee hy ons verseker van die nuwe Quo Vadis waarheen hy en die Sonopraad die tehuis neem - juis nou in die opwindende tyd oppad na die eeufees in 2016.

Die Sonopraadsvoorsitter se openhartige skrywe word gevolg deur skrywes van die laaste twee jaar se huisvoorsitters Josua Loots (2010/2011) en Jac de Wet (2011/2012) asook die pas verkose 2012/2013 huisvoorsitter, Neil van Heerden. Lees hoedat hierdie jong leiers hulle heelhartige steun aan die Sonopraad toesê en in geen onduidelike taal hulle uitspreek op die vraag Sonop - Quo Vadis ?

Mag hierdie spesiale uitgawe in sy doel slaag deur aan die eenkant rustigheid en dankbaarheid by elke oud-Sonopper te bring maar aan die anderkant ook die saadjie van opgewondenheid en samewerking te plant vir die groot fees in 2016!


KOMMENTAAR ASSEBLIEF
Ons sien uit na alle oud-Sonoppers en huidige Sonoppers se kommentaar op die bydraes in hierdie uitgawe.


Laat die byle huil!

Tonie Viljoen
Koshuishoof

1 comment:

  1. Dankie vir die volledige uiteensttings van gebeure daar by julle. Aangesien ek nou al byna 25 jaar in die Laeveld [onder die Berg] is, weet ek redelik min van wat in die groot stad aangaan. Toe my kleinseun 3 jaar gelede vertel dat Sonop se naam in Pretoria nul is, het ek reguit gesê ‘jy lieg’! Nou moet ek hoor dat dit waar is.

    Ek glo vas dat die Afrikaners die gebeure na 1994 nog nie kon verwerk nie. Ons het groot geword met die gedagte dat alle Afrikaners gelowiges is en dat alle Afrikanners aan een of ander kerk behoort. Na ek my bediening in 1958 in die myndorp Stilfontein begin het, het ek reeds agtergekom dat dit ver van die waarheid is. Na 1994 is dit verder onderstreep dat werklik min mense werklik gelowiges is. My slagspreuk is: gee my ‘n gelowige Afrikaner, nie ‘n Afrikaner-gelowige nie.
    Die jare wat ek in Sonop was, was die leiding grotendeels in die hande van 6e en 7e jaar studente – ouens wat darem al bietjie verstand tussen die ore gekry het. In 1953 was Andre vd Spuy, ‘n 4e jaar, primarius, maar hy het die taak besonder goed hanteer.
    Ek is so dankbaar dat die naam van die koshuis nog Sonop Christelike Tehuis is. My oplossing, waaroor baie mense sal lag, is eenvoudig. Lê alle klem op die ‘Christelike’. Laat elkeen wat in Sonop wil woon, een of ander verklaring oor sy christenskap onderteken en as hy nie daaraan voldoen nie, gooi hom uit. Selfs hier op die platteland kom daar al meer ‘n duidelike onderskeid tussen die werklike ernstige Christene en die naam-christene. My bediening van die afgelope 25 jaar in die Afrikaanse Protestantse Kerkverband het diè kopskuif nogal makliker gemaak. [Ek is nog steeds deeltyds in Hoedspruit werksaam].
    Agv finansiële omstandighede kan ek nie veel meedoen aan al die huidige organisasies nie, maar die 7 jaar wat ek in Sonop gewoon het, is steeds diep in my geheue ingeprent. Destyds het ons maar gewag met die troue tot ons klaar gestudeer het [en gesorg dat ons behoorlik sedelik geleef het!!]. so het dit gekom dat ek werklik uit Sonop gaan trou het. George Rautenbach, my groot vriend en klasmaat, het my met sy Autin A40 Ooskerk toe gery, waar prof EP Groenewald die bevestiging gedoen het – wat ‘n voorreg!
    Ek hoop dus van harte dat julle as volwasse leiers die christelike [gereformeerde] leerstellings op die jong-klomp sal oordra en inprent – dis al wat eintlik in die lewe saak maak.
    Groete en seen op die werk en reëlings van die eeufees.

    Louis Pienaar VDM (Sonop 1951 - 1957)

    ReplyDelete