Friday 24 August 2012

Sonop... Quo Vadis?

Na die vorige uitgawe van die Bostelegraaf, oftewel Sonop nuusbrief, het daar 'n paar oud-Sonoppers reageer oor hulle eie ervarings en herinneringe aan Sonop tydens die tydperk wat hulle inwoners in die koshuis was.

Die klein debat op Facebook is afgeskop deur 'n 1986 eerstejaar en het reaksie uitgelok van 'n paar ander Oud-Sonoppers wat ongeveer in dieselfde tydperk as hy in die koshuis was.
Die mini-debat het onder my aandag gekom en ek het met belangstelling kennis geneem van die standpunte. Ek ken die deelnemers aan die debat nie almal nie en aanvaar van hulle het goeie redes oor die standpunte wat hulle stel en ek respekteer hul sieninge, alhoewel ek nie met alles kan saamstem nie.

Uit debatvoering lei ek af dat Sonop maar 'n gewone manskoshuis was in die tydperk ter sprake en lees ek in die debatvoering van die gewone dinge wat seker maar in baie manskoshuise gebeur het.

Ek lees dat van die persone besondere onaangename ervarings gehad het met veral senior studente, maar ook goeie ervarings gehad het van sekere senior studente. Van die debatvoerders is baie ernstig oor hul belewenis as Eerstejaar in Sonop, die belewenis van Eerstejaars na hulle, die patroon wat in Sonop ontstaan het en hul insig in die gebeure lank nadat hul die koshuis verlaat het.

Een persoon sê spesifiek: "Wat daar gebeur het onder die naam van 'ontgroening' was eintlik, 'with the wisdom of hindsight', stelselmatige, daaglikse massa-aanranding en ander vorme van fisiese en emosionele mishandeling. Ek het daaronder gely, en ek moet erken dat ek later, toe ek 'n "senior" was, dit met genoegdoening uitgedeel het. Dis mos 'n 'self-perpetuating system'. Ek het dit gevat, so daarom het ek die reg verdien om dit uit te deel ........ ek is skaam daaroor. Dit was verkeerd".

Ek was self in die koshuis vanaf 1973 tot 1975 en het geen van die negatiewe ervarings ervaar waarna van die debatvoerders verwys het nie. Ja, ons het ook "ontgroening" gehad, dit was miskien somtyds effens uitdagend, maar ek het geen negatiewe gedagtes daaroor oorgehou nie. Ek het wei baie kosbare herinneringe van my eerstejaar in die koshuis. Daar was 'n hele paar interessante karakters, maar geen aanranders en mishandelaars nie. Inteendeel, ek het toe en nog steeds net die grootste respek en waardering vir die senior studente van my tyd.

In die begin maande van 2010 was ek 'n lid van die "Kommissie van Ondersoek" by Sonop na die negatiewe berigte in die pers oor die koshuis. Tydens die tydperk van ondersoek het ek ook negatiewe stories gehoor soos deur van die Facebook debatvoerders verwoord, en nog baie erger stories as dit ook. Na die ondersoek het ek betrokke gebly en die afgelope meer as 2 jaar myself redelik goed vergewis van die verloop van gebeure in Sonop die afgelope ongeveer 27 jaar.

Ek wil graag die volgende stelling maak, volledig onder die besef dat geen individu ooit die volle detail van al die jare van Sonop volledig sal ken en verstaan nie:
In die jare 1916 tot ongeveer 1985 (69 jaar), het die koshuis 'n ryke geskiedenis opgebou wat redelik goed opgeteken is. Baie opwindende gebeure, ook bedreigende gebeure het voorgekom en is hanteer deur vindingryke leierskap. Waardevolle tradisies het ontwikkel wat eie aan Sonop was en groot figure het hulle voetspore daar gelaat.

Sedert 1985 het die koshuis skynbaar deur ‘n paar fases van verskuiwende veranderinge gegaan.

Ongeveer 1985 was die begin van die groot veranderinge in die land wat uitgeloop het op die politieke veranderinge in 1994. In Tydperk van 9 jaar waarin die atmosfeer in Suid-Afrika begin verander het, diensplig eers verminder is na 1 jaar en uiteindelik in ongeveer 1992 totaal afgeskaf is. In Groot persentasie van die eerstejaar studente was met die aanvang van die periode jong manne met twee jaar militere diens agter die rug, en wat baie aktief operasioneel aangewend was in die weermag.

Teen die einde van die periode was alle eerstejaars gewoonlik direk uit matriek, terwyl verskeie seniors nog weermagopleiding gedoen het voor hulle koshuisjare. 'n Dramatiese hersamestelling van die Eerstejaargroepe en 'n interessante dinamika tussen junior en senior studente. Dit is in veral die tydperk wat ons nou hoor dat
moeilike inlywingspraktyke teenoor Eerstejaarstudente begin plaasvind het.

'n Vraag: Was dit nie die begin van die ontstaan van praktyke wat deur baie vandag veroordeel word, wat skade aangerig het aan baie junior studente en wat vandag met terugskouing, veroordeel word nie?

Die tweede periode was dan vanaf 1994 tot ongeveer 2002 (8 jaar). In die tydperk het Suid-Afrika vinnig begin verander. Hoër onderwys en die universiteitslandskap het verander. Sonop is gespeen van die NG Kerk en die ondersteuning van die Universiteit en het in 1998 'n onafhanklike privaat maatskappy geword. In baie gesprekke het ek onder die indruk gekom dat dit baie belangrik was vir die inwoners, die HK en die oud-Sonoppers, toe in volle beheer, dat Sonop onafhanklik moet bly, 'n eie kultuur moet behou, tradisies moes bewaak en die beheer en bestuurstruktuur onveranderd moet voortgaan, ongeag die veranderde omstandighede. Hoe meer reëls in die nuwe bedeling op universiteitskampusse en koshuise ingestel is, hoe meer het Sonop geslote en eiesoortig geraak.

Dit is ook in die tydperk, in 1998, dat Sonop 'n klubhuis en 'n kroeg gekry het. Net soos al die ander manskoshuise op die UP ook, met een belangrike verskil, dit was geheel onder beheer van die studentebestuur sonder enige direkte beheer deur senior oudSonoppers. Dit het uiteindelik die atmosfeer en kultuur in die koshuis dramaties verander. Ernstige senior studente en studente met moeilike studierigtings het al meer al vroeër uit die koshuis gegaan. Die inwonersamestelling het meer junior geword, met slegs enkele seniorstudente wat oorgebly het.

So is die derde fase waarna ek verwys het binnegegaan in 2002 en het voortgegaan tot 2010 (8 jaar). Sonop het al hoe meer geslote en geheimsinnig geraak. Geen eerstejaar is toegelaat om uit die praat nie. Die huisreels het bepaal dat "integriteit" 'n hoeksteen is ..... maar jy zirts nie jou maatjie nie".

Inlywing van eerstejaars het meer onverantwoordelik geraak, baie belowende jong loopbane is skade berokken. Drankgebruik het oorgegaan in drank misbruik deur 'n groot persentasie van die inwoners. Akademiese prestasie het ernstig skade gely en dit het 'n grap vir baie studente geword om enigsins akademies te presteer. Aansoeke het verminder, en finansiële druk het op die onafhanklike maatskappy begin ontstaan.

In 2006 het die oud-Sonopper bestuur besef daar is moeilikheid. 'n Bedryfsbestuurder is aangestel en 'n magstryd het onstaan tussen die tradisie van "die HK is in beheer" en die nuwe poging om orde te kry deur die aanstelling van 'n bedryfsbestuurder.

Na 2006 tot aan die begin van 2010 het die toestand net versleg. Getalle het verminder, akademiese vordering van inwoners het versleg, nie-UP studente is toegelaat vir finansiële redes en Sonop het die plek geword waar die grootste en lekkerste partytjies op die kampus gehou is. Tot in Februarie 2010, toe die bom gebars het en daar uiters negatiewe koerantopskrifte oor Sonop, die Christelike Tehuis, verskyn het.

Die "Kommissie van Ondersoek" is aangestel, die ondersoek is afgehandel, die beheerstruktuur is hersaamgestel en die taak om Sonop ten goede te verander het in alle erns in Mei 2010 begin.

Die proses van herstel het die volgende behels, dit was In reddingspoging:
Die klubhuis/kroeg is gesluit.
In Voltydse koshuishoof is aangestel.
Deeglike en volledige koshuisreëls is saamgestel en ingestel.
Die beheer en bestuurstrukture is statutêer geformuleer.
'n Proses van streng dissipline is begin wat gelei het tot die skorsing van 'n paar inwoners. Die gevolg van die laaste stuiptrekkings van die magstryd tussen "die HK is in beheer" teenoordie "Sonopraad is in beheer".
Die personeelstruktuur is uitgebrei en versterk.
Die finansiele bestuur is verskerp en verbeter.
Die verhouding met UP het verbeter, wat op die punt was om Sonop van alle UP aktiwiteite uit te sluit.
'n Begin is gemaak om die akademiese ingesteldheid in die koshuis te verbeter en 'n hoë toelatings- en aanbly standaard is ingestel.
Die Eerstejaars inlywingsprogramme is verander, in samewerking met die HK, om die unieke Sonop tradisies voort te sit op 'n verantwoordelike manier, terwyl die junior studente ondersteun word om akademies suksesvol te wees en te groei in verantwoordelike, lojale, suksesvolle Sonop studente.
Die visie is dat Sonop sal voortgaan en verder ontwikkel as 'n inrigting waar suksesvolle studente, uit verskeie kultuurgroepe, gekeur uit baie, 'n unieke leef en leerervaring sal hê en sal ontwikkel as leiers in hulle onderskeie gebiede, plaaslik en internasionaal.


Gedurende die tydperk van drastiese verandering en herposisionering het die Sonopraad saamgewerk met drie Huiskomitees en HK Voorsitters.

Dit was en is steeds verblydend om te ervaar hoe verantwoordelike leiers onderskei het tussen wat reg was en verkeerd. Hoe hulle besef het dat die vorige of ou manier van leef nie standhoudend was nie en ten spyte van druk deur sekere inwonergroepe stadig maar beslis begin standpunt inneem het en met die Sonopraad begin saamwerk het tot 'n positiewe standhoudende manier van doen en lewe in Sonop.

Die vertroue het begin groei dat sterk leiers wat waarde heg aan 'n verantwoordelike wenkultuur momentum begin verleen aan 'n kultuur van leierskap en spontane navolging van hoë ideale. Die studente leierskorps begin entoesiasties deel word vandie beheer en bestuurstruktuur van die koshuis, sonder om die unieke studentwees element af te skeep. Respek en verantwoordelike optrede het weer "a way of life" geword.

Dit is vir hierdie studentekorps wat die familie van oud-Sonoppers wil ondersteun om te presteer en in goeie gehalte, prestige en unieke woongeriewe te leef en werk. Die huidige reuse restourasiepoging wat moet kulmineer met die 100e verjaardagviering van die koshuis in 2016 het ten doel om die kwaliteit van die woonomgewing te verbeter en 'n unieke tehuis daar te stel vir uitsonderlike studente.

Sonop koshuis en sy huidige en toekomstige inwoners verdien die hulp en ondersteuning van hulle voorgangers, oud-Sonoppers. Net so is dit belangrik dat die huidige en toekomstige inwoners waardering toon vir die hulp, ondersteuning en toewyding van oud-Sonoppers om 'n bydrae te maak vir 'n plek wat eens in hulle lewe vir hulle 'n belangrike plek was en 'n vormende rol gespeel het in hulle ontwikkeling.

Mag hierdie klein familie van ongeveer 1 500 lewende Sonoppers en oud-Sonoppers 'n unieke groep bly wat trots is op hulle tradisies en dit laat voortleef tot voordeel van unieke en besondere jongmanne in die toekoms.

KOMMENTAAR ASSEBLIEF
Ons sien uit na alle oud-Sonoppers en huidige Sonoppers se kommentaar op die bydraes in hierdie uitgawe.



Sonop groete
Danie Slabbert
Voorsitter: Sonopraad

No comments:

Post a Comment