Friday 24 August 2012

My Onlangse Ervaring van Sonop 2007 - 2011

Sonop is 'n plek wat nie hou van verandering nie. Dit is egter redelik duidelik dat Sonop nie net alreeds deur verskeie fases gegaan het nie, maar dat Sonop ook voortdurend sal moet aanpas by die wereld daar buite, anders sal stagnering ons einde beteken. Ek was gelukkig genoeg om Sonop op verskillende maniere te beleef - en ek verwys nie bloot na die verskillende ervarings wat strek van eerstejaar tot seniorstudent nie. Soos baie daar buite weet, het heelwat verander in Sonop gedurende die laaste 3 jaar. Ek was gelukkig genoeg om die verandering te aanskou, en tot 'n mate deel te wees daarvan. Ek was teenwoordig in verskeie ongemaklike vergaderings - beide deur die Universiteit en die Sonopraad gereël. Ek was tussen die manne op die grond, en ek dink oor die algemeen het ek 'n redelike volledige prentjie van die situasie gehad. Een ding was seker - verandering was onvermydelik, en broodnodig vir die voortbestaan van die tehuis. Die manier van dinge doen in die jare kort voor 2010 was nie volhoubaar nie.

Die vraag "waar kom Sonop vandaan, en waarheen is dit oppad" het hierdie jaar telke male my gedagtes gekruis - nadat ek reeds 7 maande uit die koshuis is. As studente en Sonoppers het ons gereeld stories gehoor oor Sonop en al die intriges uit die ou dae. Ek het verskeie rekords oor die geskiedenis van Sonop onder oë gehad in my tyd, geskrifte waarin ons tradisies neergeskryf is met al die amendamente deur die jare (baie min daarvan moet ek sê). Tog kry ons altyd terugvoer uit dieselfde oorde, van mense met dieselfde perspektiewe. Die oud-Sonoppers wat na feesjare en pa-en-seun dae toe kom is meestal van dieselfde spesie - trotse blanke oud-Sonoppers wat die harde tye onthou met 'n glimlag en blink oë. Ek het nog nooit vreeslik aandag gegee aan die perspektief wat buitestaanders van die plek gehad het nie, en hoe dit vergelyk met die perspektief wat buitestaanders vandag het nie.

In Maart hierdie jaar is ek op 'n ekskursie Lesotho toe, onder toesig van 'n Amerikaanse dosent - Professor Richard Maiman. Een aand laat toe ons almal sit en werk in 'n klein hotel restaurant, vra hy vir my of ek al van Sonop gehoor het. Ek was baie verbaas en dog hy het dalk 'n t-hemp of iets van my gesien.

Lank storie kort, sy beste vriend (ook 'n Amerikaanse burger) is 'n Professor Newell Stultz. Beide van hulle is politieke wetenskaplikes. Prof Stultz het gedurende die apartheidsjare in Suid Afrika kom studeer, met Apartheid as sy fokuspunt. Toe hy in SA land, en met sy informante hier praat, is aan hom vertel dat hy geen beter ervaring van die Afrikaanse kultuur sal beleef as om na Sonop te kom nie. Almal weet dat Sonop daarvan hou om buitelandse studente te huisves, en Stultz is met oop arms verwelkom. Hy het 'n paar jaar hier gewoon en is onder andere met 'n Afrikaanse meisie getroud wat oorkant die koshuis gewoon het in Murraystraat. Hul is terug Amerika toe, en Prof Stultz is vandag 'n ou man met wankelende gesondheid. Die punt wat egter uit die storie by my gebly het, is die feit dat Sonop as 'n voorbeeld gebruik was om apartheid Suid Afrika uit te beeld. Ek is ten volle bewus daarvan dat die meeste instansies in die land destyds onder hierdie kam geskeer was, en as die Afrikaanse kultuur as die kern van apartheid beskou is - stem ek saam dat Sonop miskien 'n goeie plek was om daarvan te leer. Ek weier egter om te glo dat die politieke agenda van Sonop een van uitsluiting en diskriminasie was.

Dit laat my wonder, glo ek dit omdat dit die waarheid is, of omdat ek dit van Sonop wil glo? Dit bring my by die volgende kwessie, maar wat is Sonop en deur wie word die identiteit van die koshuis bepaal? Ek het al onderskeid getref tussen Sonop as instansie en die inwoners wat Sonop op 'n spesifieke tydstip opmaak. Ek is van die denkskool dat die koshuis 'n kombinasie van beide hierdie elemente is. Wanneer hierdie standpunt ingeneem word, is dit by implikasie nodig om voortdurend beide elemente aan te pas by die tye - die instansie en die inwoners. Dit is logies dat die koshuis as instansie 'n sekere identiteit het wat deur die geskiedenis oor 'n tydperk gevorm is. Dit is verder ook redelik seker dat die identiteit van die koshuis op enige oomblik in tyd grootendeels afhang van die inwoners op daardie stadium. Dit sal tot 'n mate beteken dat nuwe inwoners nuwe invloede beteken, wat eindelik sal lei tot 'n nuwe identiteit.

Ek voel dat die identiteitskrisis waarin Sonop homself bevind het, post-apartheid, bloot 'n refleksie van die onsekerheid was wat in die hele land te vinde was - nêrens beter te vind as tussen die Afrikaners van ons reënboognasie nie. Dit is moeilik om 'n kultuur te beoefen en voort te bou as dit gekoppel word aan een van die moeilikste tye in die geskiedenis van ons land.

Dit is nou natuurlik as mens van die opinie is dat die Afrikaanse kultuur sinoniem met apartheid was - wat ek weereens weier om te glo. Wat ek wel glo is dat die Afrikaanse kultuur so diep in die wortels van Sonop te vind was, dat dit onvermydelik was dat die groter prentjie die koshuis self affekteer het. Vir jare aaneen het Sonop vasgeskop teen verandering, met die vrees dat dit die einde van ons tradisies, meer belangrik, ons kultuur sal beteken. Dit het baie onsmaaklike insidente en een baie eksplisiete koerantopskrif geneem om hierdie siklus te breek. Dit was 'n moeilike tyd in die koshuis, en die eerste tree na verandering is deur baie opposisie en kritiek begroet. Wat die mense buite die koshuis nie besef het nie, oud-Sonoppers inkluis, is dat ons op daardie stadium desperaat moes veg vir die voortbestaan van die koshuis. Ons het besef dat Sonop vinnig sal moet aanpas, anders sal die plek waarvoor ons almal so lief is baie vinnig van ons weggeneem word.

Nou, 'n paar jaar later is ek van mening dat die transformasie goed plaasgevind het. Die dispensasie in die koshuis is soos 'n pendulum. Waar die koshuis van die een ekstreem na die ander beweeg het in 'n kort periode, glo ek dat dit besig is om die balans iewers in die middel te vind. Dit is ‘n tydsame proses wat waarskynlik nog 'n rukkie sal neem. Ek glo dit is belangrik om die kern beginsels of identiteitskenmerke in die koshuis te identifiseer, en dit ten alle koste te beskerm. Hierdie beginsels kan uitgeleef word op verskeie maniere - verkieslik op so manier dat dit met die tye ooreenstem. Innovasie en kreatiwiteit sal beslis aan die dag gelê moet word. Ek glo vas dat hierdie beginsels en fondasie in 'n positiewe lig, met positiewe resultate in gedagte deur die stigters van Sonop neergelê is. Ek kan getuig dat selfs gedurende die sogenaamde "donker tye" in Sonop, hierdie beginsels deur die huislede op 'n baie naiewe en miskien verwronge manier toegepas is. Ironies genoeg het hierdie praktyke tog tot 'n mate 'n trots en patriotisme gekweek, ongelukkig ten koste van vele ander positiewe aspekte in die koshuis.

Die Facebook debat waarna verwys word was ek nie van bewus nie, en het ook nie self deelgeneem nie. Alhoewel ek van mening is dat daar 'n deurlopende band tussen oud-Sonoppers en huidige Sonoppers is, het ek al redelik vroeg in my Sonop loopbaan besef dat geen persoon sy ervaring van Sonop kan vergelyk met die van 'n ander nie - selfs nie eers met tydgenote nie.

Ons almal weet dat persoonlike ervarings hoogs subjektief is, en nerens kan dit beter gevind word as in Sonop nie. Wat een ou ervaar as die slegste dag van sy lewe kan 'n ander ervaar as een van die bestes. Die verskil tussen positiewe en negatiewe ervarings beweeg op 'n baie dun lyn in Sonop. lets wat miskien verlore gegaan het op 'n sekere tydstip in die koshuis was die ruimte wat gelaat is vir individualisme. Waar individualisme en diversiteit op 'n stadium Sonop se voordeel en sterkpunt was, het die tekort daaraan ons vir 'n goeie paar jaar gekniehalter. Dit was een van die hoof redes waarom die keuringsproses van die koshuis na 'n meer objektiewe sisteem beweeg het, met meer fokus op prestasie en minder op persoonlikheid.

Sonder twyfel sal daar altyd diegene wees wat nie in Sonop aard nie, wat nie van die koshuis en sy maniere van doen hou nie. Soos ek die situasie sien het baie ouens in Sonop aangebly as gevolg van groepsdruk en die stempel wat op so 'n persoon gedruk word sou hy uit die koshuis gaan. Hierdie is 'n baie belangrike saak en 'n praktyk wat die koshuis al duur te staan gekom het, in my tyd ook. Dit is belangrik om hierdie ouens in goeie gees uit die koshuis te laat gaan, en indien moontlik of wenslik selfs 'n verhouding met hulle te hou. Ek is seker dat daar praktyke was wat sekere oud-Sonoppers as negatief ervaar het - ek kan self aan 'n paar insidente dink wat ek moeilik gesluk het in my vroeë jare in Sonop. Ek is ook seker dat hierdie praktyke met min verandering en 'n beter toepassing as 'n totale verskillende ervaring beleef kon word. My ervaring in Sonop was 'n siklus - ek het kennis geneem van wat ek as eerstejaar baie negatief en in konflik met my eie waardes ervaar het, en seker gemaak dat ek dit op 'n ander wyse toe pas in my senior jare. Die mees waardevolle ding wat ons as oud-Sonoppers kan doen is om by te dra tot die trots wat onder Sonoppers gekweek word, en meer belangrik selfs, om die ouens te leer om vir hulself te dink. Dit is nie nodig om die instansie so in te rig dat inwoners gebreinspoel word om op 'n sekere manier te dink en op te tree nie - met klem op die regte beginsels, waarvoor ek glo Sonop en ook ens kultuur staan, behoort Sonop altyd die leiers van ons gemeenskap op te lewer.

KOMMENTAAR ASSEBLIEF
Ons sien uit na alle oud-Sonoppers en huidige Sonoppers se kommentaar op die bydraes in hierdie uitgawe.



Josua Loots
HK Voorsitter 2010 - 2011

No comments:

Post a Comment