Friday 24 August 2012

Sonop, Oppad Vorentoe...

Wat het van Sonop geword? Waar is Sonop op pad heen? Het Sonop nog 'n blink toekoms? Hierdie is alles vrae wat op menige oud-Sonopper se lippe hang.

Daar is kennis geneem van die "hewige" debat wat ontstaan het op die sosiale netwerk, Facebook. Ek het die debat met groot aandag gevolg alhoewel ek nie een van die debatvoerders persoonlik ken nie.

Hoewel ek die debatvoerders se standpunte en sieninge insien en respekteer, kan ek nie met alles saamstem wat hulle kwytraak nie.


Daar was immers 'n paar wanpraktyke wat, na aanleiding van die Kommissie van Ondersoek in 2010, in die laat 1990's en vroeë 2000's kop uitgesteek het. Dit is nou in die kiem gesmoor en die huidige en onlangse oud-Sonoppers is positief oor die regstelling. Die rippeleffek van die positiewe veranderinge in die koshuis is reeds sigbaar as daar gekyk word na die eerstejaar/senior verhoudings, die verbetering in akademiese resultate en ook die algemene gees onder huislede.

Soos wat die Kommissie van Ondersoek bevind het, was Sonop se tradisies vir ongeveer 70 jaar dieselfde (vanaf 1916 tot ongeveer 1985). In hierdie tydperk was daar ook probleme, maar niks was so ernstig dat dit nie intern deur innoverende en lojale leiers kon hanteer word nie. AI die tradisies en interaksie met eerstejaars was positief en opbouend.

Aan die einde van hierdie tydperk het dinge stelselmatig begin verander. Die afskaffing van diensplig en die ontstaan en ontwikkeling van 'n nuwe en demokratiese Suid-Afrika het beslis 'n groot rol gespeel. Die groot veranderinge, blyk dit, het gekom in die tydperk toe daar seniors in die koshuis was wat diensplig ondergaan het en eerstejaars wat die koshuis betree het sonder weermagopleiding. Die seniors, met weermagopleiding, het veroorsaak dat daar 'n dramatiese herstrukturering van inlywings-praktyke plaasgevind het. Eerstejaars in Sonop het hulle eie tipe "weermagopleiding" begin kry, en dit het later aanhou plaasvind onder die vaandel van tradisie.

In dieselfde tydperk het Sonop 'n klubhuis en kroeg gekry waar Sonoppers na hartelus kon drink tydens enige uur. Ekself het dit beleef in my eerstejaar en dit terdeë geniet in my senior jare.

Enige persoon met 'n bloedsomloop sou kon sien dat dinge nie vir ewig so sou kon aangaan nie en dat die vonke een of ander tyd sou spat. Dit het toe gebeur in 2010 toe Sonop, die Christelike Tehuis, op omstrede wyse in die pers beland het.

Hierdie wanpraktyke is met reg deur baie veroordeel en het beslis skade aangerig aan heelwat studente. Hierdie skade sluit in: swak akademiese vordering wat gelei het na Sonoppers wat nooit hulle tersiêre opleiding voltooi het nie, Sonoppers wat die koshuis as alkoholiste of harde kuiergatte verlaat het, die skend van die goeie naam van Sonop onder veral die ouergeslag en dames.

Wat Sonop vir my nog altyd aanloklik gemaak het is die feit dat Sonop homself bestuur en beheer het. Met die groot veranderinge wat in die land, by die ander univrsiteitskoshuise en die universiteit self begin plaasvind het, het dit al moeiliker geword vir Sonop om homselfte bestuur en te beheer soos almal dit geken het in die verlede.

Daarom was dit nodig vir ‘n duidelike, volhoubare oppergesag en bestuurstruktuur in Sonop. Dis hier waar die Sonopraad in die prentjie kom. Omdat daar jaarliks ‘n nuwe Huiskomitee verkies word, huislede op ‘n al hoe jonger ouderdom die koshuis verlaat en daar nie regtig volhoubare leierstrukture en kontinuïteit is nie, was dit nodig om ‘n Sonopraad aan te stel wat die operasionele bestuur en besluitneming van die koshuis oorneem. Die Huiskomitee is dus In uitvoerende gesag en kan fokus op die studente, welstand van die huis, aktiwiteite en uitvoering en voortsetting van tradisies. Vanaf 2010 is die bogenoemde stelsel of struktuur in plek gestel. Alhoewel daar baie koppe gestamp is tussen die Sonopraad en inwoners van die Tehuis, is daar goeie oplossings gevind vir samewerking as een bestuurspan wat voordelig is vir die Tehuis op kort- en langtermyn.

Met die aanstelling van die nuwe Sonopraad en Koshuishoof het heelwat dinge verander:

Die klubhuis/kroeg is gesluit a.g.v. ernstige drankmisbruik deur heelwat studente wat gelei het tot vandalisme en die skaad van die beeld van die Tehuis.

Omvattende en volledige huisreëls is opgestel en ge-implementeer. Dit was nodig omdat heelwat van die reëls verouderd was en meer rigiede riglyne nodig was om Sonop te help in sy strewe na uitnemendheid op aile gebiede. Die suksesvolle implementering van die huisreëls en die dissiplinêre kode se positiewe uitwerking is reeds sigbaar en word aanvaar deur die meerderheid Sonoppers.

Die fokus is verskuif van die HK wat in beheer is na die Sonopraad wat in beheer is. Daar kan met ‘n oop gemoed gesê word dat die verhouding tussen die HK en die Sonopraad ‘n oop verhouding is wat gebaseer is op vertroue en dat albei gesagstrukture gesamentlike doelwitte het en dit saam aanpak en uitvoer as een bestuurspan. Dit kan opgesom word in een sin: Beide die HK en Sonopraad strewe om Sonop weer ‘n instansie van uitnemendheid te maak wat volhoubaar is vir die toekoms.

Sonop sal in 2016 die beste koshuis in die land wees!  Met die herstrukturering en herposisionering in die koshuis is dit beslis moontlik. Dit is nodig dat alle huidige en oud-Sonoppers inkoop in hierdie "nuwe" manier van dink en doen, want net dan kan Sonop sy doelwitte en ideaIe ten volle bereik.

Huidige en oud-Sonoppers kan rustig slaap met die wete dat die leierskorps van die Tehuis net die beste belange van die koshuis op die hart dra. Sonop is sonder twyfel die toonaangewende koshuis op Tuks en is reeds ‘n pionier op vele gebiede. Ons is reeds in ‘n posisie waar Sonoppers met reg kan spog en kan trots wees op hierdie unieke plek wat so ‘n belangrike rol in baie se lewens speel en/of gespeel het.

Ek sal sonder twyfel my seun eendag aanraai om by Sonop aansoek te doen. Nie net omdat ek hier was en glo in tradisie nie, maar omdat ek in my hart weet dat Sonop nou 'n volhoubare resep het vir uitnemendheid en enige jongman se lewe net kan verryk. Mag Sonop in die jare wat kom net nog hoër hoogtes bereik en 'n koshuis wees wat aanhou strewe na uitnemendheid.

KOMMENTAAR ASSEBLIEF
Ons sien uit na alle oud-Sonoppers en huidige Sonoppers se kommentaar op die bydraes in hierdie uitgawe.


Jac de Wet
Huisvoorsitter 2011/2012


No comments:

Post a Comment