Friday 24 August 2012

Die Ideale Tuiste

Ek wil die woorde van Isaac Asimov op Sonop betrek: "It is change, continuing change, inevitable change, which is the dominant factor in society today. No sensible decision can be made any longer without taking into account not only the world as it is, but the world as it will be." Die geskiedenis van Sonop is in die voorafgaande skrywes reeds deeglik bespreek, daarom gaan ek nie poog om dit weer te agterhaal nie. Vir my, wat aan die begin van ‘n nuwe termyn staan, is dit belangriker om te vra: hoe Iyk die pad vorentoe?

Ons eeufeesvieringe is om die draai en daar word dikwels verwys na ons doelwitstelling vir Sonop teen 2016: om die beste manskoshuis in Suid-Afrika te wees. Hoe meetbaar so iets werklik is, wis ek nie, en die kriteria waarvolgens ons dan as die "beste" beoordeel sal word is vir my ook ietwat duister. Maar een ding staan soos 'n paal bo water: prestasie op sigself is soet, maar hoegenaamd nie genoeg nie. Ons moet telkens onthou: Sonop is ‘n huis en ons handel, per slot van sake, met mense. Hierdie unieke plek is vir menige jongman ‘n tydelike woonplek, ‘n halfwegstasie - een wat hom toerus met ‘n gesonde stel Christelike norme en wat in hom balans en uitnemendheid kweek. En daarmee word hy uiteindelik die wêreld ingestuur.

Dit bring my by die brandende kwessie van "tradisie" - iets waarop feitlik elke Sonopper en oud-Sonopper ‘n hoe premie plaas. Te midde van jarelange, oorgelewerde dogma moet ons waak daarteen om bloot tradisieretoriek blindelings te propageer sonder om regtig die betekenis daaragter te verstaan. Daarom moet ons opnuut krities vra: wat is die sin van tradisie? Waarom is ‘n eerstejaar byvoorbeeld gewillig om hoogsomer in ‘n pak rond te rits, of om daagliks nog te bedien? Waarom hierdie (soms irrasionele) gebruike elke Sonopper so na aan die hart lê en waarom beywer ons onsself so naarstig vir die behoud daarvan?

Ek het die saak bepeins en tot die volgende slotsom gekom: ‘n Sonopper is bereid om iets op te offer - hoe groot of klein ook al - ter wille van ‘n entiteit wat groter is as hyself, groter as die individu. En dlt, menere, (indien ons dit nog nie besef het nie) is in der waarheid die bron van Sonop se krag. Dit is die rede waarom ons kan kompeteer teen die res van Tuks - en met welslae! Want, anders as byvoorbeeld die dagstudent wat "alleen" staan, behoort  ‘n Sonopper aan ‘n breër broederskap wat nie net ons studentejare meer lonend en bevredigend maak nie, ons kry ook lewenslank lidmaatskap.

Op die drumpel van ‘n nuwe termyn is die eer en verantwoordelikheid van voorsitterskap oorweldigend. En dan moet ‘n mens boonop die moeilike pil sluk: jou termyn as voorsitter is maar net een jaar lank, en ten spyte van al die goeie bedoelinge en aspirasies wat jy mag koester gaan jy nie die spreekwoordelike wiel herontwerp nie. Daarom is dit vir my van kardinale belang om in hierdie jaar, terwyl die "pendulum" (waarna Josua in sy skrywe verwys) nog wiegend soek na ewewig, ten minste waarde toe te voeg - om te bou, met kreatiwiteit en ywer. Want soos die gesegde immers lui: "Rome is nie in een dag gebou nie".

Dit is ook die rede waarom die Sonopraad In onmisbare rigtinggewer is. Jac het reeds genoem dat, ter wille van kontinuïteit, die Sonopraad as beleidmakende gesag die teuels oorgeneem het. Aanvanklik is die idee met agterdog begroet, maar dit is hoegenaamd nie so ‘n vreemde konsep nie, kyk ‘n mens bloot na die skeiding van magte in ons eie landsregering: daar is die parlement (wetmakende gesag), die hof (geregtelike gesag) en die kabinet, provinsiale en munisipale regering (uitvoerende gesag).

In Sonop dus, verteenwoordig die Huiskomitee daardie uitvoerende gesag - in samewerking, natuurlik, met die Koshuishoof en sy personeelkorps. Ek glo trouens dit stel die Huiskomitee in staat om te fokus op dit wat regtig hulle mandaat is: om die Huis te dien. Vir die voorsitter en sy span beteken dit harde werk en toewyding, nougesette toepassing van die reëls en die daarstel van 'n navolgenswaardige voorbeeld.

Ek doen hier 'n beroep op die konstruktiewe kritiek van elke belanghebbende by Sonop - huidige Sonoppers sowel as Oudsonoppers. Nietzsche het eenmaal gese: "The surest way to corrupt a youth is to instruct him to hold in higher esteem those who think alike than those who think differently". Daarom verwelkom ek oop, sinvolle dialoog met veral diegene wat van my verskil of 'n ander perspektief huldig. 'n Mens leer immers niks by mense wat met jou saamstem nie.

Ten slotte. 'n Onlangse opskrif in Beeld het my geruk: "AI minder in SA glo" (bedoelende al hoe minder Suid-Afrikaners is deesdae Christene). Dit het my geruk, want hierdie tendens geld wereldwyd. En ek het onwillekeurig gewonder: is dit nie dalk die onderliggende rede vir Sonop se destydse katarsis en gevolglike sondeval in die pers nie? Edmund Burke het immers by geleentheid gesê: "All that is necessary for the triumph of evil is that good men stand by and do nothing". Waar was al die ware "Christene" toe die sogenaamde wanpraktyke hier nog hoogty gevier het? En hoekom het hulle bygestaan en kennelik niks gedoen nie? As ons werklik Christenskap beskou as die fundamentele bousteen van Sonop, moet dit ook ondubbelsinnig deel wees van ons toekomsplan en moet ons maniere vind om daardie waardes minder abstrak en meer opreg te beoefen - dit beteken nie soseer dat ons religie moet najaag nie, maar dat ons die goeie, heilsame beginsels van Christus beliggaam. Ek wil dus graag sien dat Sonop Christelike Tehuis teen die jaar 2016 sy naam gestand doen - en weer 'n bastion vir ware Christenskap word.

KOMMENTAAR ASSEBLIEF
Ons sien uit na alle oud-Sonoppers en huidige Sonoppers se kommentaar op die bydraes in hierdie uitgawe.


Neil van Heerden
Huisvoorsitter 2012/2013

No comments:

Post a Comment